© 2018 Created with Wix.com

Simson Bekker

Die Gelykenis van`n swanger vrou

`n Storie deur Moniqué Bekker

 

Eendag was daar `n vrou wat met haar 3de seuntjie swanger was.  Haar vorige twee geboortes was lank en uitputtend, tog suksevol en kosbare ontmoetings met Abba.  Die komende geboorte was weereens `n misterie met die hoop dat dit `n korter en dalk minder pynlik (soos party ander gelowige vroue al van getuig het).  Maar realiteit het die swangervrou laat oorgee aan Abba en gesê: “Nie my wil nie, maar laat U wil geskied.”.

 

Op 11 September 2016 om 14:00 het die swangervrou se “water gebreek” en was sy besig om hierdie misterie te ontravel.  Teen 17:30 was haar kontraksies reeds so intens dat sy afhanklik was van dié rondom haar om haar deur elke kontraksie te vryf (op die vloer – haar veilige plek).  Toe dit al donker was, het sy dit tot die kersbeligte stort gemaak en die warm water het byna beheerbare verligting gebring; hier het sy alleen met Abba gesels. Trane het oor haar wange gerol.  [Was dit trane van teleurstelling in haarself omdat sy dalk nie genoeg geloof gehad het nie, of was dit teleurstelling in God (mag mens dit sê?) “Laat U wil geskied Abba...”. “Hierdie voel té GROOT vir my om te dra...  As U my maar net kon vat en in die hemel ingooi dat ek daar geboorte skenk en dan weer aarde toe kom...”

 

Die swanger vrou het iets soos `n band uit die hemel sien kom wat haar onder haar arms opgelig het.   “Jy is bo hierdie kontraksies” het sy in `n fluistering in haar binneste gehoor. Intussen het haar oudste seuntjie (wat uit sy bed gesluip het) haar herinner aan realiteit en geheimsinnig in die badkamer kom wegkruip om te kom hoor of sy mamma oraait is en of sy boetie al gekom het.  Na `n gerustellende gesprek is die seuntjie weer suutjies terug na sy bed toe.

 

Die swangervrou het besef sy sal prakties gewys nie in die stort geboorte kon skenk nie en haar man het haar kom help om tussen kontraksies af te droog en aan te trek.  Maar kort daarna bevind die swangervrou haar weer op die badkamervloer; platgetrek deur die kontraksies. Sy het oor haar man se seer kruistog skouers geleuen (pas na `n Camp David), soos die Hoogliedvrou wat op haar geliefde se skouer leuen en na rook ruik oppad uit die woestyn uit.  Was die swangervrou besig om deur vuur te gaan?

 

Die vroedvrou was geroep en het kom ondersoek instel.  Na 9pm was die swangervrou vol ontsluit. Toe die vroedvrou help om kontraksies te vryf, was dit asof Abba dit gevryf het, want dit was op die perfekte plekke.

 

Drukkontraksies het die swanger vrou ontnugter dat sy nie vir ewig die baba kon binne hou nie.  Sy het geweet die moeilikste deel lê nog voor...

 

Uitgeput en uitgeslaan in koue sweet moes sy haar “guts” bymekaar skraap om baba uit te druk.  Na `n paar drukke kon sy die baba se koppie voel uitkom en kon sy sy mondjie binne voel wat wil asemhaal en die vroedvrou hoor sê: “Jy sal hom nou moet uitdruk, want hy wil asemhaal!” (hoe het sy dit geweet? – na die tyd kon sy dit ook nie verstaan nie..)

 

GUTS!

 

Laaste DRUK!

 

En daar was hy... Omtrent vyf drukke later om 22:05.

 

SIMSON DAWID!!

 

Die mamma het haar oudste (steeds wakker) seuntjie geroep om sy boetie te kom ontmoet.  Sy gesigsuitdrukking laat haar met trane in haar oë. “Ouma, hy is so mooi...” is sy woorde toe sy ouma hom weer in sy bed gaan sit.

 

Veilig op sy ma se bors vat Simson Dawid sy eerste slukkies melk.  

 

Na `n vinnige stort en opruim maak almal teen middernag reg om te slaap.  Maar daai aand, nie soos die vorige twee geboortes nie, slaap die mamma en baba byna niks.  Dalk het sy hom oorvoed, dalk was dit die vorige dag se kaas en uie skuifies of dalk het hy koud gekry.  Wie weet. Maar sy gehuil het die mamma naderhand raadop.

 

Die volgende oggend word `n “bitter Mara” wakker.

Dit vat die mamma drie maande (aan en af) om te besef waarom sy so bitter voel wanneer sy aan die geboorte dink.

Sy besef sy het gedink sy het nie genoeg geloof gehad om te besef waarom sy so bitter voel wanneer sy aan die geboorte dink.

Sy besef sy het gedink sy het nie genoeg geloof gehad om pynlose geboorte te skenk nie, maar het vergeet dat haar gebed was “nie my wil nie, maar U wil Heer”.  Sy onthou in die stort die band uit die hemel en hoor `n Bethel liedjie se woorde “You make me brave”. Sy aanskou die wonderwerk van `n perfekte gevormde seuntjie en skuif die vyand en sy leuens opsy en kom eis terug wat hy kom steel – haar vreugde!

 

Die gelykenis van die swangervrou en Jesus...

Haar koue sweet – Sy bloed sweetdruppels.

Haar “guts” bymekaar skraap – moes Hy dan nie ook nie?

Haar sterf in haarself – SY onselfsugtige kruisdood.

Soos wat die baba uit die geboortesak gebore word en van die naelstring losgesny word, so het Jesus se opoffering vir talle wedergeborenes volbring om hul los te kan maak van wat agter hul is sodat elke wedergeborene hul kan uitstrek vir die ewige lewe wat voor hul is.

 

Van Krip tot Kruis tot Opstaander.

Van swangervrou tot Kraam tot drie maande later.

 

Die gelykenis van die swangervrou.

11 September 2016